NG-Ma Laat Kinders in Steek

Jean Oosthuizen het die week in Kerkbode berig oor die groot aantal proponente in die NGK wat nog nie beroepe ontvang het nie. Daar is slegs 8 uit die 23 van die Universiteit van Pretoria wat beroepe gekry het. Dus het nog net sowat 35% beroepe gekry. Dit sluit nie die aantal van ander universiteite in wat nog werkloos is nie. Vir die teologiestudente was daar vertel dat daar geen tekort aan beroepe gaan wees nie, aangesien baie predikante op aftree staan. Maar daar is ‘n kinkel in die kabel…

Wanneer ‘n predikant aftree, beteken dit nie noodwendig dat daardie pos beskikbaar word vir proponente of ander dominees nie. Die pos word soms gesluit, want die gemeente kom agter dat hulle sonder die predikant kan klaarkom. Wat ook kan gebeur is dat hulle die afgetrede predikant as emeritus leraar aanstel. Dit beteken dat hulle nie meer pensioen of medies vir daardie pos hoef te betaal nie. Die salaris is ook minder. Dus bespaar die gemeente op die geld wat hul sou moes uitgee as hulle ‘n nuwe dominee aangestel het. Hierdie besluite word op grond van ekonomiese redes gemaak. Die middelklas kapitalistiese uitkyk het nie die kerk ontgaan nie.

Wat ook gebeur is dat ‘n gemeente ‘n teologiestudent het wat met die jeug werk. Soos die tyd van legitimasie aanbreek, besluit die gemeente dat hulle die jeugwerker op sy/haar tone gaan hou deur die pos te adverteer. Hoopvolle kandidate stuur dan hulle CV in, vergesel met ‘n klein takie oor “hoe sien jy jeugwerk binne die gemeente?” of een of ander ewe vae vraag rondom jeugbediening. ‘n Groepie hoopvolles word dan genooi vir onderhoude, maar die besluit was eintlik al lankal gemaak en dus word daar net tyd gemors. Dit is oneties, veral vir die kerk wat tog volgens die koninkryk se beginsels behoort te werk.

In die tussentyd sit daar talle proponente sonder werk en elke jaar kom daar net nog meer nuwe proponente by. Is die gemeentes bang vir die verandering wat nuwe predikante kan bring? Of is dit net die ekonomiese aspek, want die een met die meeste geld aan die einde van die dag wen? As een van die proponente wat nog nie ‘n beroep gekry het nie (en ook nog nie enige ander werk kon kry nie) voel ek die kerk laat my in die steek. Kontrakposte was so paar jaar terug juis geskep as werk vir jong predikante. So hoekom word die poste meestal beklee deur predikante tussen die ouderdomme van 60 en 70?

Dr Flip du Toit van die NG Kuratorium by die Universiteit van Pretoria vra dat die ringe hul verantwoordelikheid nakom. Die Kerkbode haal hom aan: “Die ironie is dat die helfte van die NG Kerk se predikante ouer as 50 jaar is en binne die volgende 15 jaar sal aftree. Wanneer dit gebeur, kan daar weer ’n groot tekort aan predikante in die NG Kerk ontstaan.” Dit beteken dat as gemeente nie arm uit die mou sit nie, dat ek en my medeproponente dalk oor so 15 jaar beroepe kan kry. In die tussentyd hoop die aantal proponente net op en die ouer dominees tree af net om as emeriti aangestel te word. Ciprianus het die volgende gesê: “He can no longer have God for his Father, who has not the Church for his mother.” Dit lyk asof die kerk as ma haar plig versuim en die jongste kinders buite in die koue laat staan. Dalk sal dit veroorsaak dat van die kinders besluit om op hul eie bene te staan en die ma af te skryf. Dit sal nie verbasend wees nie. Een opmerking op die Kerkbode blad vertel al klaar so storie: “Ek voel die kerk het haar rug op my gekeer en dit trek n streep deur die teologie wat ek ses jaar lank aan haar fakulteit geleer het.”

Advertisements